DIE WENRESEP VIR VEEPRODUSENTE
Om jou diere se voerbehoeftes te bepaal – en hulle dieet dienooreenkomstig aan te pas – is maklik met hierdie grafieke van BioMinerale
Tradisioneel is lekke in twee kategorieë verdeel – lekke vir die groen en lekke vir die droë seisoen. Veediëte is aangevul
met fosfate wanneer die gras jonk en groen was, en proteïen is verskaf wanneer die veld droog en ryp was.
Lekke word egter meer strategies aangewend in moderne voedingsprogramme, wat opgetrek word tesame met reproduksieprogramme in ’n holistiese plaasbestuurbenadering. Hierdie moderne voedingsprogramme word opgestel op grond van een basiese beginsel – om lekaanvulling strategies te gebruik om nutriënttekorte in die veld aan te spreek. Lekaanvulling word dus nooit as die hoofbron van voedingstowwe aangewend nie.
Met ander woorde, boere wat hou by hierdie moderne voedingsprogamme wend lekke nooit aan as voer nie maar beskou hulle as bestanddele wat die rumenmikrobes aan die werk sit. Wanneer hierdie mikrobes maksimaal gestimuleer is, sal die diere van die beskikbare droë materiaal op die veld liggaammassa aansit.
Dit maak dus sin dat die lekaanvullings wat die beste werk in hierdie moderne voedingsprogramme dié is wat saamgestel word op grond van die voedingswaarde van die veld, wat afhanklik is van die seisoen. Dis nie net die veld se voedingswaarde wat verander na gelang van die seisoen nie, sy smaaklikheid en verteerbaarheid wissel ook soos die jaar aanstap. Gevolglik wissel innames ook. Navorsing het by voorbeeld getoon dat innames kan afneem van tussen 10 en 12kg in die vroegsomer, wanneer die gras groen en groeiend is, na so min as tussen 5 en 6kg vanaf die middel na die einde van die wintertydperk.
’n Ander aspek wat in gedagte gehou moet word wanneer ’n voedingsprogram saamgestel word is die voedingsbehoeftes van die diere. Daar is verskeie elemente wat die voedingsbehoeftes van vee beïnvloed – ouderdom, geslag, ras, aktiwiteitsvlak, parasietlading (challenge) en die produksie-omgewing. Die produksiesiklus het heel moontlik die grootste invloed op die voedingsbehoeftes van veral vroulike diere.
Gegewe die verskillende aspekte wat in gedagte gehou moet word, kan die saamstel van ’n voedingsprogram voel soos ’n skrikwekkende en oorweldigende taak. BioMinerale maak dinge maklik vir sy kliënte met die grafieke op die ommesy. Aangesien die voedingsbehoeftes van vroulike diere meer wissel as dié van manlike diere, voorsien ’n illustrasie van ’n koei se voedingsbehoeftes vergeleke met voedingstowwe wat beskikbaar is in die veld ’n goeie voorbeeld. Trouens, dit behoort die hoofpyn
om die beste voedingsprogram vir jou koeie saam te stel te laat verdwyn! Die statiese grafieke dui die beskikbare voedingstowwe in die veld aan gedurende die jaar, en die uittrekgrafieke dui ’n koei se voedingsbehoeftes gedurende die verskillende stadia van
haar siklus aan. Deur die koei voedingsbehoefte-grafiek in en uit te skuif, word die verskil tussen wat die veld verskaf in terme van voedingstowwe (proteïen, fosfate en energie) gedurende ’n gegewe maand en wat die koei benodig duidelik. Dit word ook duidelik dat hierdie verskil nie konstant is deur die loop van die jaar nie.
Deur hierdie BioMinerale grafieke te gebruik om die spesifieke tekorte van elke kudde gedurende spesifieke tye van die jaar te bepaal, kan ’n doelgepaste lekprogram opgestel word vir elke spesifieke kudde binne ’n boerdery.Sodoende kan die ideale kombinasie van voedingstowwe aan diere gevoer word op die regte tye, en maksimum ekonomie kan verseker word.







